Beefmaster SA | Standaard van Voortreflikheid

Beefmaster SA Standaard van Voortreflikheid


1. Grootte en Kapasiteit

Die Beefmaster is bekend vir sy gewigstoename en diere moet ‘n goeie gewig vir ouderdom toon. Hulle moet goed gespierd en lank van liggaam wees met ‘n relatiewe groot kapasiteit. Die vroulike dier moet ‘n goeie lengte van lyf toon en relatiewe groot kapasiteit. 

2. Vel, Hare en Been

Kleur:
The Beefmaster has no specific hair colour as it plays no role in functional efficiency. Selection for specific colour pattern is allowed if preferred. Inspectors will not discriminate against colour.
Hare:
Kort, dig, glansend, glad en reguit.
Vel:
Van middelmatige dikte, los en soepel met voldoende pigmentasie.
Been:
Sterk, droog en duursaam, oormatige verfyndheid of grofheid ongewens. Gewrigte sterk en droog en nie vleserig dik of jigagtig nie.

3. Kop

Bulle:
Duidelik manlik en sterk. Oë goed geplaas en helder, met ‘n fors tog kalm uitdrukking. Van middelmatige lengte en breedte. Gesig skerp omlyn met goed ontwikkelde oog banke.
Vroulike Diere:
Kop moet kenmerkend vroulikheid vertoon. Oë goed geplaas en helder, met ‘n waaksame tog rustige uitdrukking.
Voorkop:
Breed, met goeie wydte tussen die oë.
Neusbeen:
Breed, ovaal en sterk. Van middelmatige lengte.
Neusspieël:
Groot, breed en vleeskleurig. Neusgate groot en oop.
Kake:
Breed en sterk. Onderkaak wyd, met tande wat vierkantig op die bokaak se kussing pas.
Ore:
Van middelmatige grootte en wakker gedra.
Horings:
Diere moet verkieslik onthoring wees. 

4. Nek

Bulle:
Manlik, met duidelike definieerbare bespiering. Skerp omlyn met goed ontwikkelde skof. Nek goed aangeheg en moet netjies saamsmelt met kop en skouers. Verdonkering van kleur op nek en voorkwarte is verkieslik. 
Vroulike Diere:
Van middelmatige lengte, plat, met netjiese uiters vroulike voorkoms. Die nek van die vroulike dier moet nie tekens van ‘n donkerder verkleuring in vergelyking met die res van die liggaam toon nie.

5. Voorkwart

Skouers:
Bulle:
Gelyk met die rug, goed gespierd, moet vrylik beweeg en goed saamsmelt in die liggaam. Bladbeen nie te los nie en moet teen die regte hoek lê
Vroulike Diere:
Gelyk met die rug, nie swaar bespierd, netjies, moet vrylik beweeg en goed saamsmelt in die liggaam.
Bors:
Bulle:
Diep, breed tussen die skouerknoppe. Oor-prominente skouerknoppe ongewens. Borsstuk breed, maar nie te prominent nie
Vroulike Diere:
Soos in die bul, maar nie so massief en breed nie. ‘n Prominente borsstuk wat ‘n swaar vetneerslag toon is ongewens.

6. Middelstuk

Borsomvang:
Diep breed met goeie sprong van voorribbes.
Ribbes:
Lank, plat en goed gewelf, en lê effens skuins na agter. In bulle diep deur die borsgedeelte.
Ribbekas:
Lank en relatief diep, met goeie kapasiteit en ribsprong.

7. Rug (Kambene en Lende)

Kembene:
Reguit, sterk en breed.
Lende:
Bulle: Breed en sterk, bespiering prominent en goed gedefineer en moet die indruk skep van sterkte. Goed aangesluit met kruis. 
Vroulike Diere: Prominent, tog glad bespierd. Definiëring van spiere soos in die bul moet nie teenwoordig wees nie. Goed aangeheg aan die kruis.

8. Agterkwarte

Heupbene:
Bulle:
Taamlik wyd van mekaar, maar nie so wyd of prominent dat ‘n indruk van vroulikheid geskep word nie.
Vroulike Diere:
Wyer van mekaar as in die geval van die bul en sonder enige oortollige vetaanpakking.
Kruis:
Lank en breed en effens gerond bo. ‘n Effense dakkigheid van beide kante van die stertaanhegting is wenslik, asook ‘n effense val vanaf die heupbene tot by die sitbene.
Sitbene:
Wyd uitmekaar en effens laer as die heupbene geplaas.
Draaibene:
Wyd (wydste deel van die dier) hiervandaan moet ‘n geleidelik wig sigbaar wees na voor.

9. Dye

Bulle:
Lang en duidelike gedefineerde bespiering moet getoon word in ‘n vol binne- en buitedy wat afgaan tot by die hak. ‘n Breë tweede dy moet ook teenwoordig wees.
Vroulike Diere:
Lank, plat en glad bespierd tot by die hakke.

10. Stert

Moet mooi uit die liggaam kom en reguit hang. Stert moet tot ten minste by die hakke hang en ‘n goed ontwikkelde stertkwas toon. Prominente stertwortel ongewens.

11. Manlike Geslagsorgane

Testes:
Moet goed ontwikkel wees en van gelyke grootte en moet laag afhang in die skrotum.
Skrotum:
Moet ‘n goed ontwikkelde nek toon, nie gedraai wees en nie te laag hang nie.

12. Vroulike Geslagsorgane

Goed ontwikkel met geen tekens van infantilisme of misvormigheid nie..

13. Melkaanduidings, Uier en Spene

In die vroulike dier moet ‘n genoegsame melkproduksie-potensiaal getoon word in ‘n absolute vroulike houding. Eenvormige spene silindries in fatsoen, vierkantig geplaas en wat reguit afhang en van middelmatige lengte (6-8cm). Uier moet goed aangeheg wees, soepel en elasties, bedek met fyn, sagte hare.

14. Bene en Kloue

Die dier moet vierkantig staan en beweeg met ‘n gemaklike vrye gang.
Voorbene:
Sterk van middelmatige lengte met matige been. Moet effens inkom van elmboog tot knie, maar moet reguit en vierkantig geplaas wees van knie tot klou.
Agterbene:
Sterk, van middelmatige lengte met matige been. Van die kant gesien moet die hake die wenslike hoekigheid vorm. Reguit en vierkantig geplaas wanneer van agter gesien.
Kloue:
Van goeie grootte, ovaal en diep. Kloue moet vorentoe wys met styf passende kloutjies van amber tot swart kleur.

15. Algemene Voorkoms

Groot, goed gebalanseerd en simmetries. Goeie lengte en breedte van liggaam. Uitstaande geslagsegtheid met ‘n mak temperament. Die dier moet kwaliteit en sterkte toon en vrylik kan beweeg op vier sterk bene.
Bulle:
Manlik, robuust en sterk, met ‘n goeie houding en lewenskragtigheid. Goed gedefinieerde bespiering moet getoon word oor die skouers, rug, lende en dye. Genoeg breedte van voor en van agter. Diere van middelmatige grootte, Growwer van vel, haar en been as die vroulike dier, met ‘n dieper, beter ontwikkelde voorkwart.
Vroulike Diere:
Fyner in alle opsigte as die bul en vertoon, algehele vroulikheid. Goed, maar glad bespierd. Wanneer in melkproduksie, moet minder gespierdheid vertoon word, en die raamwerk meer sigbaar wees. Van die kant gesien, moet die agterkwart dieper vertoon as die voorkwart, wat ‘n effens tipies vroulike, wigvormige voorkoms vertoon. ‘n Goed ontwikkelde en aangehegte uier, met vier goedgeplaaste spene van middelmatige grootte.
Die bul moet dus ‘n kragtige sterk en manlike voorkoms vertoon, terwyl die koei netjies, fyner en vroulik moet wees.


 

Beefmaster SA

Oor Ons
Raad
Nuus
Gebeure


 

Kontak Ons

T: 051 410 0935
C: 083 417 7047
E: beefmastersa@stemma.co.za


COPYRIGHT © BEEFMASTER SA. WEBSITE, SEO & CMS BY QUICKSOLVE INTERNET